Boere ruk vreedsaam op

Boere het landwyd opgeruk in die sogenaamde Swart Maandag proteste teen plaasterrorisme. Waar daar aanvanklik ‘n betoging in die Kaap beplan is, het boere en gemeenskappe landwyd spontaan hulle eie protesoptrede gehou.

Die radikale BlackFirstLandFirst splintergroep het hom van die protes gedistansieer en die regering gevra om boere se “gesteelde grond” sonder vergoeding te onteien. Ook Cosatu en ‘n plaaswerkersgroep het hulle van die optrede gedistansieer, ten spyte daarvan dat plaaswerkers op talle plekke deel was van die protesoptrede.

Terwyl die protesoptogte teen plaasmoorde aan die gang was, het dit bekend geraak dat nog ʼn persoon in ʼn plaasaanval vermoor is by Vryheid, en dat daar ook ʼn onbevestigde geval by Koster in Noordwes was, terwyl mnr. Sarel Erxleben van Deneysville, tydens ʼn gewapende roof in sy huis doodgeskiet is. Naby Marquard in die Vrystaat is ‘n plaasaanval afgeweer is. Die egpaar Pilcher van die plaas Wildebeeslaagte was egter paraat en het met hulle vinnige optrede die aanval afgeweer.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê oor hierdie gebeure dat dit die feit onderstreep dat Suid-Afrikaners rede het om deur protesoptrede in opstand te kom teen ʼn regering wat sy mense in die steek gelaat het.

Hy sê die VF Plus verwelkom die protesaksie en beskou dit as ʼn barometer van wat werklik in die gemoedere van Suid Afrikaners aangaan.

“Suid Afrikaners in die algemeen en veral die kwesbare landbou-gemeenskap het nou ʼn streep in die sand getrek en met hierdie aksie ʼn duidelike boodskap aan die regering gestuur dat die situasie nie onbepaald kan voortduur nie.

“Alle beriggewing oor die reuse aksie dui daarop dat dit vreedsaam verloop. Dit is net jammer dat sommige politieke partye die aangeleentheid vir eie gewin probeer kaap aangesien hierdie werklik ʼn saak is waar alle Suid-Afrikaners moet hande vat, ongeag ras of politieke oortuigings.”