Blomkarnoelie / Cornus florida / flowering dogwood:

Die blomkarnoelie is ‘n pragtige sierboom in ons tuine. Dit dra die mooiste blomme in wit tot donkerpienk. Die blomkarnoelie is in die familie Cornaceae en die genus is Cornus. Hierdie boom is inheems van Noord Amerika en Noord Mexico. Blomkarnoelie word hoofsaaklik geplant as ‘n ornamentele boom in die tuin.

Cornus florida word tot 10 meter hoog en soms groei wyd en vorm ‘n mooi boom. In diameter groei die stam tot 30 cm en meer. ‘n 10 jaar oue boom sal omtrent 5 meter hoog staan. Die blare donkergroen en ovaalvormig en word 6 – 13 cm lank en 4 – 6 cm breed. Dit het ‘n duidelike aar in die middel van die blaar en die blare is getand. Die blare verkleur rooi/bruin in die herfs.

Die blomme is klein maar duidelik sigbaar omdat dit so oorvloedig blom. Blomblare groei baie eienaardig met twee blare onder en twee blare bokant en dit vertoon soos ‘n ster en is rond aan die bopunte. Daar vorm omtrent 20 blomme, dig opmekaar aan ‘n takkie en lyk amper soos skoenlappers aan die boom. In die middel is geel stuifmeel knopies. Dis is volmaakte blomme.

Hierdie bome word in hulle natuurlike habitat aan die rand van die woude en op droë plekke gevind. Na die blomtyd dra hierdie bome rooi vruggies in trossies aan die takke. Die bessies of sade word in die laat somer ryp en lok baie voëls na die tuin.

Blomkarnoelie aard die beste in suurgrond op ‘n plekkie geplant wat in die middag bietjie skaduwee kry. Hulle soek egter oggendson. Hulle groei nie goed in baie warm klimate nie. Hierdie bome wil ook nie eintlik baie verplant word nie, want hulle is geneig om dood te gaan sodra die wortelstelsel gepla word. Dit sal met steggies of met saad voortgeplant word en hierdie bome kan gesnoei word. Plant die steggies of die saad gedurende vroegsomer in suurgrond. Gee hulle weekliks water in die oggend. Wees versigtig om die loof van hierdie bome nie vreeslik nat te maak nie, want dit kan fungus op die plante veroorsaak.

Cornus florida is die boom van Virginia, Missouri en Noord Carolina. Let wel, die rooi bessies is eetbaar maar nie juis baie smaaklik nie.

Tuiniers, geniet u tuin tot volgende keer.