Alsemkruid / Artemisia absinthium

 

Alsemkruid is dierevriendelik en dien ‘n goeie doel as die takkies onder die diere se beddegoed geplaas word want dit hou vlooie en bosluise weg. Daarom is dit nogal ‘n goeie kruid om in die tuin aan te plant vir gebruik in en om die huis. Hierdie kruid kom in verskeie warm wêrelddele voor en word ook aangeplant as ‘n ornamentele plant in die tuin.

Artemisia absinthium is in die familie Asteraceae en die orde Asterales. Dit is ‘n meerjarige plant. Die stamme is reguit en word tot 1,2 meter hoog, maar kan ook nog hoër groei in goeie omstandighede. Dit vertoon silwergrys en die blare is fyn soos kant en laat mens nogal aan wynruit dink. Die blare is baie fyn getand en wit aan die onderkant en het duidelike are wat olie vervaardig. Hierdie blare word 25 cm lank aan die voorpunt van die takkie, aan die onderpunt is dit kleiner.

Alsemkruid dra klein geel blommetjies wat in trossies hang en na onder buig.  Hulle blom van vroegsomer tot vroegherfs. Daarna vorm dit klein saadjies. Die steggies moet in die lente geplant word. Hierdie kruid kan met min water klaarkom en sal in klipperige droë tuine aard. Dit kan met die saad of steggies voortgeplant word.

Alsemkruid word gebruik in die vervaardiging van alkoholiese drankies, dit is ‘n sterk geurmiddel.  Daar was tye toe hierdie kruid gebruik is om bier te maak in die plek van ander gis- en geurmiddels.

Tuiniers, dit is altyd goed om ‘n kruieplant in die tuin te hê en Alsemkruid vertoon bo als nog mooi ook. Al gebruik ons dit nie regtig in geregte nie, is dit ‘n mooi plant veral tussen klippe geplant.

Geniet u tuin tot volgende keer.