Wêreldbeker kan 160 miljoen pond kos

Volgens Jurie Roux, die hoofuitvoerende beampte van Rugby SA, moet hulle ‘n waarborg van ten minste 120 miljoen pond (meer as R2 miljard) lewer vir die aanbied van die wêreldbeker rugbytoernooi.

Die regering het egter hul ongekwalifiseerde hulp beloof en ‘n ekstra 40 miljoen pond is aangebied.

Volgens Cyril Ramaphosa, wat tans in Londen is om voorbrand te maak dat die toernooi in 2023 in Suid-Afrika moet plaasvind, sal die toernooi mense vanuit diverse groeperinge saamsnoer. Rugby sal glo grense afbreek, hoop bring en die mensdom verenig.

Waarnemers is egter nie so optimisties nie in die lig daarvan dat die land tans brandend en in ‘n finansiële gemors is. Oor ses jaar sal die land nie net rommelstatus hê nie maar seker net ‘n smeulende ashoop wees, want dis nie grense wat afgebreek word nie, maar die infrastruktuur.

Met die groeiende rassespanning is die kans dat die land se verskillende volke sal verenig, ‘n onhaalbare droom.