Welkom brandweer sonder water

ʼn Gebou het in die Mathjabeng- (Welkom, Virginia, Odendaalsrus, Hennenman, Allanridge en Ventersburg) munisipale area afgebrand sonder dat die munisipaliteit se brandweer daartoe in staat was om die brand te blus.

Hierdie keer omdat daar nie water tot die brandweer se beskikking was nie, het Susan Taljaard, VF Plus-raadslid in die munisipaliteit gesê.

Mev. Taljaard was op die toneel waar die gebou van Janru Waste Recyclers in Welkom afgebrand het. Sy het al voorheen die brandweerkwessie onder die munisipaliteit se aandag gebring.

“Toe was al die brandweervoertuie buite werking omdat daar glo nie fondse was om die voertuie te diens nie.  Nou is die voertuie weer in ʼn werkende toestand, maar hulle het nie water om die brande mee te blus nie.

“Die brandslange word met plastieksakke geheg en aanmekaar gehou, maar die bietjie water wat daar wel is, spuit by lekplekke uit en dien geen doel nie. Dit is ʼn absurde situasie,” het sy gesê.

Taljaard het verskeie lede van bestuur in die Rampbeheer- en Openbare Veiligheid en Vervoer-afdelings van die munisipaliteit versoek om na die toneel te kom om die vrugte van hulle handewerk te aanskou.

“Al ses dorpe van Mathjabeng moet deur hierdie brandweer bedien word, maar die brandweermanne word nie eers met water voorsien nie, om nie eers te praat van gasmaskers en ander veiligheidstoerusting nie.  Dit is ʼn reuse probleem wat die hele gemeenskap van Mathjabeng se lewens in gevaar stel,” het Taljaard gesê.