VSA bomwerpers wek vrees in Noord-Korea

Die Noord-Koreaanse weermag vrees dat die Amerikaanse B-1 bomwerpers al hulle drome kan vernietig nadat vasgestel is dat die bomwerpers nie deur hulle verouderde radarstelsel opgevang word nie.

Amerikaanse B-1 bomwerpers het die afgelope week ’n magsvertoon net buite die grense van Noord-Korea gehad, wat nie deur die land se radarstelsel opgevang is nie, en wat kan lei tot chaos in ’n tyd van werklike oorlogvoering.

Die verbyvlugte is gedoen om te dien as waarskuwing aan die kommuniste, wat nou vrees vir ’n aanval deur Amerika wat sonder ’n enkele missiel die skiereiland kan vernietig.

Die massiewe groot B-1 bomwerpers is bekend vir die hoë spoed en groot aantal bomme wat hy kan dra, wat vernietigend is as ’n radarstelsel hulle nie betyds kan opvang nie.

Amerika beskik oor meer as 80 van die bomwerpers wat elkeen sowat 60 bomme kan dra, en in ’n gesamentlike aksie kan hulle Noord-Korea binne ure vernietig, en die kommuniste is nou daarvan bewus gemaak.

Die bomwerpers is ook ontwerp om oor lang afstande in die lug te bly, en dit is juis hierdie kenmerk wat Kim Jong-Un se weermag bevrees gemaak het nadat hulle moes sien hoe die vinnige bomwerpers naby hulle verby vlieg terwyl die radarstelsel hulle nie opgevang het nie.

Te midde hiervan het die minister van buitelandse sake in Noord-Korea ewe manhaftig gesê “dit is hulle reg om die bomwerpers af te skiet as hulle ’n bedreiging word, al is die bomwerpers in internasionale lugruim”.

Foto – VSA se B-1 Bomwerper