Volkswagen wen hofsaak in VSA

Die hof in Amerika het beslis dat die Duitse motorvervaardiger Volkswagen nie verantwoordelik gehou kan word vir die moontlike skade wat aan die omgewing veroorsaak is weens die besoedeling van sy dieselvoertuie nie.

Die hof het met die beslissing Volkswagen van honderde miljoene dollar se moontlike boetes vrygespreek nadat Amerikaanse gesaghebbendes ’n saak teen die vervaardiger begin het.

Die Federale regter het die saak uitgegooi en gesê Volkswagen kan nie verantwoordelik gehou word vir omgewingsbesoedeling wat vir dekades deur miljoene motors veroorsaak is nie.

Die aanklag wat na die hof gebring is deur die Wyoming deelstaat, het geëis dat Volkswagen $37 500 per dieselvoertuig moet betaal vir elkeen wat in Amerika verkoop is.

Die motorvervaardiger het vroeër erken dat hy gekul het met die sagteware in 11 miljoen dieselvoertuie wat hy wêreldwyd verkoop het.