Vaarwel koffie en sjokolade

Kan die wêreld hom indink dat daar op ’n gegewe dag nie meer sjokolade, koffie, aartappelskyfies te koop sal wees nie?

Dit is die eerste vraag wat opgeduik het nadat ’n nuwe verslag die lig gesien het waarin aangedui word dat die voortbestaan van meer as ’n duisend gewasse ernstig bedreig word.

Die verslag toon aan dat die bedreiging van olifante, renosters of die Bengaalse tier wel kommerwekkend is, maar dat honderde gewasse wat tot hede die mens se voortbestaan verseker het, ernstig bedreig word.

Ann Tutwiler, direkteur-generaal van die wêreldwye ondersoekspan Bioversity International, sê die mens is besig om ’n afskeidsrede gereed te maak vir sy gebruik om te eet.

Volgens die dame is daar honderde gewasse waarvan die mens afhanklik is vir sy voedsel wat nou ernstig bedreig word, en die een na die ander kan verdwyn wat katastrofiese gevolge sal inhou vir die mens se toekoms.

Sy sê daar is ook baie diersoorte wat bedreig word wat tans ‘n belangrike deel van die mens se voedselketting uitmaak, maar dit wil lyk of die politici en wetenskaplikes nie aandag aan die saak wil skenk nie.