Universiteit Brugkampioenskappe 2017

Anders as in Suid-Afrika word daar gereeld groot brugkompetisies in die wêreld gespeel. Noudat vanjaar se Wêreld Brugkampioenskappe afgehandel is, word daar nie stilgesit nie. Die universiteitskampioenskappe vind vanaf 19 September 2017 in Fuengirola, Spanje, plaas. Dit is ‘n toernooi vir Europese universiteite. Elke deelnemende land en universiteit mag soveel spanne inskryf as wat hulle wil.

Lesers moet hulle indink in die reuse organisasie wat met elke toernooi gepaard gaan. Dit is ‘n groot uitdaging om te sorg dat elke letter en syfer behoorlik verantwoord word sonder dat enige fout mag insluip. Die programme wat duisende hande (verskillende kaartsamestellings) insluit, asook watter spelers watter hande wanneer moet speel en teen watter ander spelers hulle nog moet speel sonder dat enige speler ‘n bepaalde hand reeds gespeel het of teen dieselfde teenspelers, verg besondere vermoëns. Daarby moet spelleiers (skeidsregters) sorg dra dat hulle die ingewikkelde brugreëls van buite ken, want tydens die wedstryde het hulle nie tyd om die reëlboek na te slaan nie.

In Suid-Afrika se universiteite word brug nie goed georganiseerd en formeel gespeel nie. Die gevolg is dat die gemiddelde ouderdom van brugspelers alhier redelik hoog is. Skolebrug bestaan nie, terwyl dit elders vanweë die groot waarde ‘n gewilde spel op skool is.