Toeriste beroof op Tambo lughawe

Na die bravade van SAPD en Metropolisie aan die Oos-Rand dat die lughawe nou beveilig sal word teen rowers en kapers, het 36 Nederlandse toeriste deurgeloop toe hul bus aangeval is.

Die bus is deur ‘n persoon in polisie uniform gestop en hul is daarna beroof van al hul persoonlike besittings. Skynbaar is van die toeriste aangerand.

Toeriste sal twee keer dink voordat hulle weer Suid-Afrika sal besoek, nadat die grootste Nederlandse dagblad, voorbladnuus van die rooftog gemaak het. Die toeriste het hulle toer inmiddels gekanselleer en het reeds weer na Nederland teruggekeer, waar verwag word dat hulle onderhoude op elke radio- en televisiestasie sal toestaan.

Hierdie gebeure vind plaas op dieselfde tyd dat Cyril Ramaphosa in Londen is om Suid-Afrika te bemark vir die 2023 rugby wêreldbekertoernooi. Die gebeure kan ‘n groot terugslag wees vir die bod.

Intussen sê die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald, dat die besoek wat die minister van polisie, Fikile Mbalula, aan die 38 Nederlandse toeriste gebring het na die rooftog, was die regte ding om te doen, maar dit is helaas “te min te laat”.

“Die wanorde in die topbestuur van die polisie waar daar nie permanente hoofde aangestel word nie en waar belangrike teenmisdaad-strukture vir politieke gewin deur die regering misbruik word, het veroorsaak dat ons nou die wrang vrugte daarvan pluk deur voorvalle soos hierdie aanval.

“Indien die minister daadwerklik iets wil doen, moet hy die polisie nou skoonmaak van al die korrupte elemente soos hy beloof het om te doen, en moet ervare en kundige polisielede permanent aangestel word in die topstruktuur sodat die bestuur van die polisie op die regte pad geplaas kan word om misdaad effektief te bestry,” sê dr. Groenewald.

Foto: Die bus waarin die Nederlandse toeriste beroof is