Toenemende verset by Franse werkers

Te midde van die groeiende verset teen die arbeidshervormings van die Franse president, hou hy steeds vol om nuwe arbeidswette in plek te kry.

Meer as 200 000 werkers het die strate van Parys beset in ’n opvolgaksie van verset, maar die Franse premier sê die Macron regering gaan voort met die hervormings “waarvoor die kiesers gevra het”.

President Emmanuel Macron word toenemend verwerp weens sy arbeidshervormings waarmee hy voortgegaan het ’n dag nadat duisende werkers met vlae en baniere die strate van Parys oorheers het.

Eerste minister Edouard Philippe het aan die media gesê die Franse kiesers het vir verandering in arbeidswette gestem tydens die presidentsverkiesing en nou sal die regering daaraan uitvoering gee.

Hy sê die Franse werkers weet baie goed dat Frankryk nie ’n gesonde ekonomie het op die oomblik nie, en daarom is hervormings nodig.

’n Vakbond woordvoerder het later gesê meer as 180 optogte is landswyd gehou, en sowat 4 000 stakings het begin, wat die ekonomie verder benadeel weens die president se hervormingsbeleid.