Stryd teen terroriste om olieveld te herwin

’n Hewige stryd duur in die olieryke suidoostelike gebiede van Sirië tussen die koalisiemag onder leiding van Amerika wat veg teen die Islamitiese Staat.

Dit is veral die ervare Koerdiese soldate wat die een slagveld na die ander verower met die ondersteunende hulp van Amerikaanse vegvliegtuie.

Die Koerdiese militariste het Saterdag aangekondig dat “Operasie Jazira Storm” bedoel is om die Islamitiese Staat uit die provinsie te verdryf.

Verlede week het die Siriese weermag, gerugsteun deur Russiese vegvliegtuie, die linies deurgebreek van die Islamitiese Staat terroriste in die stad Deir al-Zor wat die afgelope drie jaar lank onder terroriste beheer was.

Kenners meen die terroriste kan ’n swaar en vernietigende slag toegedien word as hulle verdryf word uit die olieryke gebiede wat nou aangeval word.

Intussen duur die stryd voort in die terroriste se verklaarde hoofstad, Raqqa, en sal waarskynlik nog maande voortduur.