Stand van die land se damme

Met die winterreënvalstreek se seisoen wat amper verby is en die somerreënvalseisoen wat nou begin, word asem opgehou oor die land se watervlakke. Verskeie munisipaliteite, selfs in Transvaal, het waterbeperkings ingestel, terwyl die watertoestand in die Wes-Kaap kritiek word.

In die PWV-gebied is die damme hierdie week 86,5% vol, effens laer as verlede weer se 86,8%. Dit is egter beter as verlede jaar se 80,9% dieselfde tyd.

Noord-Transvaal se damme is tans 71,5% vol teenoor verlede week se 72,1%. Verlede jaar, net na die knellende droogte, was die stand 47,9%.

Oos-Transvaal se damme is gemiddeld 71,2% vol teenoor 50,8% verlede jaar die tyd. Die Rhenosterkopdam is egter krities laag op 15%.

Wes-Transvaal se damvlakke het die afgelope week gedaal van 80,8% na 79,9%, wat aansienlik beter is as verlede jaar se 60,4%.

Vrystaatse damme staan tans op 75,4% teenoor verlede jaar se 53,6%. Die Tierpoortdam staan egter op slegs 3,3%, die Kalkfonteindam op 12% en Groothoekdam op 15,9%.

Noord-Kaap se damme is gemiddeld 87,9% teenoor 62,8% verlede jaar. Die Kareedam is egter feitlik leeg op slegs 2,6%.

Oos-Kaapse damme is tans 55,5% vol teenoor verlede jaar se 64,7%. Die Beervleidam is egter dolleeg, terwyl die Coranadam slegs 1,2% vol is, Kromrivierdam op 12,4% staan en Kougadam op 14,5%, wat ‘n aanduiding is van die droogte in sekere gebiede.

Natalse damme begin egter swaar trek op gemiddeld 49,8% teenoor verlede jaar se 42,2%.

Wes-Kaapse damme trek egter die swaarste. Ten spyte van reën die afgelope week, het die gemiddelde damvlakke gedaal van 36% verlede week tot 35,9% die week. Verlede jaar die tyd was die damme 62,1% vol.

Etlike damme is dolleeg, soos die Gamkadam, Gamkapoortdam en Miertjieskraaldam.

Prof. Peet Pienaar, bekende weervoorspeller, glo egter dat die droogtegeteisterde Wes-Kaap nog goeie reën gaan kry begin Oktober en begin November en selfs nog in Januarie.