Spanning verhoog dramaties in Katalonië

Die spanning is aan die oplaai en bereik reeds breekpunt  in Spanje nadat dit duidelik geword het dat die mense van die welvarende deelstaat Katalonië voortgaan met die referendum om onafhanklikheid.

Die Spaanse staatsaanklaer het beveel dat strafregtelike vervolging ingestel moet word teen honderde Kataloniërs soos burgemeesters en andere wat meedoen aan die sogenaamde “onwettige referendum”.

Die Spaanse koning en die eerste minister het reeds in uitsprake gewaarsku dat die Kataloniërs met ongrondwetlike optrede besig is, en dat hulle vervolging kan verwag.

Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy, het ’n beroep op kiesers in Katalonië gedoen om nie deel te neem aan die referendum nie en gevra dat hulle liefs moet wegbly van stemlokale gedurende die referendum op 1 Oktober.

Katalonië het sowat 700 burgemeesters wat die referendum steun, en die hoof staatsaanklaer het hulle gewaarsku dat strafregtelike vervolging teen hulle ingestel gaan word.

Die Spaanse minderheidsregering van premier Rajoy het die polisie opdrag gegee om burgemeesters wat hulle dagvaardings ignoreer, summier in hegtenis te neem,  en selfs beslag te lê op stembusse by stemlokale.

Intussen het die leiers in Katalonië onverpoos voortgegaan met die voorbereidingswerk om op 1 Oktober ’n referendum te hou waarvolgens bepaal sal word of die kiesers ten gunste van ’n soewerein onafhanklike Katalonië is.