Spanje in warm politieke stryd gewikkel;

Spanje staar ’n warm politieke stryd in die gesig noudat die regering in die noordelike Katalonië vasbeslote is om voort te gaan met die beoogde referendum oor onafhanklikheid.

Madrid het reeds verskeie kere sy afkeur en teenstand bekend gemaak, en die minderheidsregering het die afgelope naweek daarop gewys dat die hof beslis het dat so ’n referendum se uitslag ongeldig en onwettig sal wees.

Die Kataloniese Nasionale Vergadering wat die grootste onafhanklikheid forum in die streek is, het hulle hande vol om al die reëlings in plek te kry.

Een van die merkwaardigste aksies is dat duisende geel T-hempies met kleurvolle knopies gereedgemaak is om die boodskap van onafhanklikheid uit te dra tydens ’n massa optog wat gehou is.

Elke jaar kom duisende Kataloniërs byeen om ’n optog te hou waarin die onafhanklikheid as eie staat gepropageer word.

Gister het die Kataloniërs hulle optog gehou tydens die streek se nasionale vakansiedag, en duisende welmenende kiesers het meegedoen aan die verrigtinge.

Maar terwyl President Carles Puigdemont van Katalonië ywerig werk om kiesers te oortuig om deel te neem aan die referendum op 1 Oktober, waarsku die minderheidsregering van Spanje se Eerste Minister,  Mariano Rajoy, dat die referendum onwettig is en die uitslag daarvan nie erken sal word nie.

In Barcelona staan die separatiste sterk, en sê hulle volg die demokratiese weg om met ’n referendum die koers van Katalonië te bepaal.