Spanje en Brittanje tree op teen Noord-Korea

Spanje en die Verenigde Koninkryk het albei besluit om op te tree teen Noord-Korea nadat die land op onverantwoordelike wyse ’n ballistiese missiel lanseer het wat die ganse wêreld  bekommerd gelaat het.

Die missiel wat deur die Japanse lugruim getrek het, en in drie stukke gebreek het voor dit in die see gestert het, is die rede waarom die twee lande besluit het om Noord-Korea se ambassadeurs op te roep tot dringende gesprek.

Die Spaanse regering het by monde van sy minister van buitelandse sake geen doekies omgedraai nie en die ambassadeur laat verstaan dat hy die optrede van Noord-Korea ten sterkste afkeur.

Spanje het in ’n verklaring ook gesê die regering beplan ’n drastiese vermindering in die diplomatieke korps van Noord-Korea maar het nie aangedui watter aantal verminder moet word nie.

Brittanje het soortgelyke optrede gevolg as Spanje en in ’n verklaring daarna sy sterkste afkeur in Noord-Korea se onverantwoordelike handeling te kenne gegee.

Noord-Korea se roekelose optrede het selfs daartoe gelei dat Rusland sy afkeur uitgespreek het, en talle lande het soortgelyke verklarings uitgereik nadat die verenigde nasies se Veiligheidsraad se sterkste afkeur te kenne gegee het aan die regime van Kim Jong-Un.

Foto – Noord-Koreaanse vlag