Skudding in Noord-Korea was kerntoets

’n Kernkrag deskundige asook ’n politieke ontleder het bevestig dat die skudding in Noord-Korea wel afkomstig was van ’n kernkrag toets, en sê die skudding was tien keer erger as die vorige kernkrag ontploffing wat Noord Korea voorheen gehad het.

Jonathan Holslag het gesê Pyongyang wil met sy kerntoetse die twee groot magte teenoor mekaar opstel in ’n gevaarlike spel.

Dit laat die vraag of die VSA bereid sal wees om ’n ooreenkoms aan t gaan met Noord-Korea en sy vennoot, Sjina, terwyl Rusland op die kantlyn toekyk.

Hy se die toets is ook op die spesifieke dag uitgevoer terwyl die Brics-lande met uitbreidings besig is. Die vyf lande, Brasilië, Sjina, Rusland, Indië, en Suid-Afrika, beplan om hulle alternatiewe “wêreldbank” se ondersteuningsbasis uit te brei wat ook ’n simbool van anti-westerse ekonomie is.

Die Koreaanse kommuniste probeer om met die toetse verdere druk op Sjina te plaas, wat tot nou nog Noord-Korea se enigste ware bondgenoot is, om direk teen Amerika en die VN se sanksies kant te kies.

Die fokus word daarmee op die Sjinese president, Xi Jinping, gesit om ’n duidelike standpunt in te neem sodat meer duidelikheid bestaan oor wie waar staan in die konflik situasie.

Die eis van Noord-Korea dat die VSA sy militêre bedrywighede in Suid-Korea moet staak alvorens hulle bereid sal wees om hul kernprogram op te skort, word as ’n baie klein moontlikheid beskou wat nie werklikheid sal word nie.

Kenners in Europa twyfel egter oor die moontlikheid dat ‘n waterstofbom getoets is, aangesien Suid-Korea en Sjina geen radio-aktiewe uitstralings kon opspoor nie.

Intussen het onbevestigde gerugte begin rondvlieg dat Noord-Korea voorbereidings tref om ’n interkontinentale ballistiese missiel te lanseer.