Ruimtetuig Cassini eindig sy taak

Die ruimtetuig Cassini het na 13 jaar getroue diens sy laaste tog onderneem deur eers sy verbinding met Moeder Aarde te verbreek en toe teen ’n hoë spoed homself vernietig teen die planeet Saturnus.

Cassini is die eerste ruimtetuig wat om Saturnus gewentel het en belangrike inligting aan Nasa verskaf het oor die planeet.

Die tuig het Vrydag sy verbinding met die aarde verloor en daarna teen ’n spoed van 113 000 kilometer per uur, die atmosfeer van Saturnus binnegedring en hom te pletter geval op die planeet.

Cassini is in 1997 gelanseer en moes die moeisame tog van sewe jaar lank aanpak na sy bestemming om waarnemings te doen oor die planeet Saturnus, waar hy die afgelope 13 jaar inligting versamel het en aan Nasa gestuur het.

Cassini se seine na die Amerikaanse ruimtevaart agentskap Nasa is gereeld ontvang, en alhoewel dit die seine 83 minute neem om Nasa te bereik, was daar in die 13 jaar nooit ’n onderbreking nie.

Cassini het nie net die meer as 60 mane wat om Saturnus wentel, bestudeer nie, maar ook die oseane van Saturnus en die omstandighede op Enceladus is bestudeer om te bepaal of daar moontlik enige vorm van lewe is.

Die werk wat deur Cassini gedoen is, sal wetenskaplikes nog vir jare besig hou, want die 450 000 afbeeldings wat na die aarde gestuur is, moet elkeen bestudeer word.