RTIA minag hof, moes hoes

Die Padverkeersoortredingsagentskap (RTIA) het hierdie week inderhaas ʼn bedrag van sowat R1.7 miljoen betaal om te verhinder dat ʼn hofbevel om op sy bates beslag te lê, uitgevoer word, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts sê hy is in besit van dokumente wat daarop dui dat die Noord-Gautengse Hooggeregshof (Pretoria) op 21 Augustus hierdie jaar twee beslagleggingsbevele teen die RTIA uitgereik het.

Dit was vir die kostes aangegaan in die saak en latere appèl tussen RTIA en die applikante Fines4U en Audi Centre.

Fines4U het vroeër vanjaar ʼn waterskeidingsaak in die hooggeregshof teen Aarto gewen. Ingevolge die uitspraak moes Aarto miljoene rande se onwettige verkeersboetes afskryf.

Adv. Alberts sê die aanvanklike versuim van die RTIA om die kostebevel na te kom en eers gewag het tot beslagleggingslasbriewe uitgereik is, is aanduidend van die minagting wat RTIA vir die hofprosesse het, en dié optrede het bloot gelei tot verdere onnodige vermorsing van belastinggeld.

Intussen blyk dit dat talle Aarto boetes steeds nie afgeskryf is nie en motoriste se lisensies word teruggehou in ‘n poging om motoriste af te pers om wel die onwettige boetes te betaal.