Rotte verniel Kalahari weiveld

Een van die ergste rotplae wat die Kalahari getref het, is besig om boere moedeloos te stem weens die geweldige omvang daarvan.

Mnr. Deon Hoon van Kuruman sê groot kolonies fluit-rotte kom voor in onder meer Olifantshoek tot by die grens van Botswana tot groot ergernis van veeboere omdat die rotte hulle weiveld vernietig.

Fluitrotte (Parotomys brantsii) het in sekere gebiede reeds meer as die helfte van boere se weiding kaal gestroop, wat met die lae reënval, ernstige probleme veroorsaak.

Die rotte verkies droë sanderige grond om in te bly en is soggens vroeg aktief. Hulle hou daarvan om in die son te sit en bak by die ingang van die gat. Die kompleks het twee of meer ingange waar een tot drie kleintjies in die somer gebore word. Die kleintjies klou aan die ma se tepels as sy loop. Die dier eet die blare van vlesige plante, sade en blomme.

Van die boere meen daar is tot 700 rotteneste per hektaar grond, en al die rotte vreet plante wat bedoel is vir vee.

Boere sê die rotte is nie onbekend aan hulle nie, maar so ’n enorme plaag het hulle nog nooit tevore gehad nie.

’n Deskundige op die gebied van rot plaagbeheer sê ’n supersoniese klankstelsel kan gekoop word wat seine uitstuur en die rotte laat vlug, maar die afstand is beperk tot sowat 700 meter.