Op die volksakker – aktiwiteit of resultaat

Ons word daagliks deur dieselfde nuus oordonder: die verval van voorheen funksionele instansies, veral in die sfeer van die staatsdiens en semi-staat ondernemings – juis daardie ondernemings wat vir ons ʼn effektiewe makro-omgewing moet skep vir bedrywe en ondernemings – is daagliks in die nuus.

Dit blyk ongelukkig of Jan Publiek afgestomp raak – terwyl die naam, bedrag en agtergrond verskil, is die storie telkens maar dieselfde:

Droogtehulp word afgekondig, maar honderde miljoene is net weg;

Hulp aan brandgeteisterde gemeenskappe word gesteel, of aan “armes” uitgedeel;

Mislukte landbouprojekte se geld betaal vir ʼn bruilof;

Behuisingsprojekte en ander infrastruktuur projekte is altyd 200-300% oorbestee, met ten beste 50% lewering.

Selfs waar dienste gelewer word, is die geldverduistering duiselingswekkend: honderde-miljoene word spandeer bloot om sosiale toelaes uit te betaal, terwyl die staat ʼn hele departement in diens het wat dit behoort te doen!

Veral op plaaslike vlak word meer en meer dienste “uitgekontrakteer”, maar sonder dat stadsrade se personeel dienooreenkomstig verminder.

“Dienslewering” is verder relatief, want daar word links en regs “gestaak”, gemeenskappe pleeg stedelike terreur en ontwrig sake sover hul kan, maar die owerheid doen niks om wetsgehoorsame burgers te beskerm nie.

En deur dit alles word ons wysgemaak dat ons leef en woon in ʼn “werkende demokrasie”.

Hierdie leuen word veral deur sogenaamde “opposisie” politici aan ons opgedis – natuurlik ter wille van hul eie finansiële belang, want terwyl politici geen tasbare bydrae lewer tot die land se welstand nie, teer hulle op die handjievol betalende  inwoners van ons dorpe en stede en die sowat 10% van die bevolking wat belasting betaal.  (Is dit vergesog om aan te voer dat die huidige politieke bedeling kom neer op rampokkery: politici besluit hoeveel belasting ons betaal, politici besluit self wat hulle “vergoeding” is, en politici vermors die restant van ons belastinggeld; en in antwoord op die noodwendige tekort, word belasting bloot verder verhoog…)

Debatte in die wetgewers en raadsale van die land is blote aktiwiteit – dit verander niks aan die klaaglike wanbestuur nie.

Politici en hele sektore van meelopers maak geld uit die belastingbetaler deur debatte, ondersoeke, “konsultasiedienste”, regsstappe en noem maar op.

Maar geen hoeveelheid debat, nog minder ondersoeke, gaan die inherente korrupsie stopsit nie: slegs summiere tronkstraf, sonder appèl, en verbeurdverklaring van amptenare se bates gaan die saak beredder.

Hofbevele bloot om staatsamptenare te verplig om hul werk te doen is geen bewys van ʼn “demokrasie” of van “werkende regering” nie.  ʼn Regstaat is waar die amptenary hul plig doen sonder ingrype van buite!

En diegene wat hierdie prosesse aanmoedig – by uitstek politici en sogenaamde “burgerregte” groepe, forseer bykomende vermorsing van skaars belastinggeld, want ons betaal die staatslui se regskoste!

Eers wanneer amptenare verplig gaan word om persoonlik alle regskoste te betaal, sal hierdie misbruik gestaak word.

Dit is egter noodsaaklik dat ons anders begin dink oor hierdie sake:

Ons moet ontslae raak van politici en ander groepe wat ons probeer oortuig “aktiwiteit” is goed genoeg.

Geen resultate kan gewys word nie, allermins waar plaaslike regerings sogenaamd “verbeter” het sedert 2016.

Dieselfde korrupte amptenare is steeds in diens.

Dieselfde wanbetaling deur sekere groepe word steeds oor die hoof gesien.

En op elke regeringsvlak vererger die omvang van die skade.

Daarom behoort ons terug te keer na ʼn vereenvoudigde regeerstelsel, waar slegs bepaalde deeglik omskrewe dienste gelewer word.

Slegs resultate mag aanvaar word en amptenary se vergoeding moet bepaal word deur die sowat 4 miljoen belastingbetalers, geskoei op die vermelde resultate.