OBK se hoof in die “sop”

Dan Matjila, die hoofuitvoerende beampte van die Openbare Beleggingskorporasie het bewerings ontken dat hy fondse misbruik het.  Dit volg nadat hy versoek is om te reageer op bewerings dat hy die korporasie se fondse gebruik het om ‘n persoonlike projek te finansier.

Die Openbare Beleggingskorporasie hanteer onder andere die pensioenfondse van staatsamptenare.

Die bewerings spruit voort uit ‘n webtuiste wat verbintenisse het met die Gupta gesin.

Matjila se pos gaan, sou hy geskors word, klaarblyklik gevul word deur Brian Molefe, die berugte hoofbestuurder van Evkom.

Dit blyk dat die Guptas agter die hele skuif is om Mtjila te vervang om sodoende hul hande op die koprporasie se fondse te lê voordat Zuma oor 18 maande aftree.

VF Plus se voorsitter, adv. Anton Alberts, sê nuwe verwikkelings wat daarop dui dat die staatsdiens-pensioenfonds (SDPF) opnuut in die visier van ʼn Gupta-georkestreerde stropingspoging is, is kommerwekkend, en pro-aktiewe optrede is nodig om die fonds te beskerm.

Adv. Alberts sê die OBK, wat die staat se pensioenfonds bestuur, is met ʼn bate van R1,87 triljoen die grootste belegger in die land se ekonomie en daarom ook ʼn baie aanloklike teiken vir verskeie selfverrykingsaksies.

“Die VF Plus neem kennis van die jongste bewerings, en hou die bedreiging teen die fonds lank reeds dop.

“Indien dit waar blyk te wees sal die party ʼn inisiatief ondersoek om ʼn aparte vereniging vir staatsamptenare en pensioenarisse op die been te bring waarby alle pensioenfondslede kan aansluit ten einde ʼn regsfonds op te bou om aggressief te kan litigeer waar nodig.

“Dit het tyd geword om vooruit te dink en pro-aktief op te tree om die Guptas en enige ander opportuniste in hul spore te stuit en te sorg dat daar nie ʼn herhaling is van die Transnet- pensioenfondsfiasko wat nou in die howe afspeel nie,” sê adv. Alberts.

Foto: Dan Matjila