Noord-Korea lanseer missiel oor Japan

Noord-Korea se aggressie word nog verder gevoer met nog ’n langafstand ballistiese missiel wat gister lanseer is en oor Japan getrek het om in die see te land.

Met die optrede het Pyongyang getoon dat nog die Verenigde Nasies of die Verenigde State van Amerika se sanksies geensins enige uitwerking het op die kernwapen program wat deur Noord-Korea nagejaag word nie.

Dit is die tweede missiel wat die Japanse lugruim skend binne twee weke, en word as antwoord gebied op die Verenigde Nasies se verdere verskerping van internasionale handelsanksies.

Kenners wys daarop dat die skending van Japanse lugruim gedoen is om aan Japan te wys dat Noord-Korea ontevrede is met die land se steun aan Amerika met die toepassing van sanksies.

’n Woordvoerder van die Japanse weermag het gesê die ballistiese missiel wat Donderdag die lugruim van Japan geskend het, het oor die Japanse eiland Hokkaido getrek en in die Stille Oseaan neergestort.

Die missiel het die langste afstand afgelê van alle toetse wat gedoen is, en die verwagting is dat nog talle soortgelyke toetse uitgevoer sal word.

Waarnemers sê die missiel het ’n hoogte van 770 kilometer bereik, en het ’n afstand van meer as 3 700 kilometer afgelê.