Noord-Korea dreig met tweede atoomtoets

Die moontlikheid is baie sterk dat die leier, Kim Jong-Un van Noord-Korea, kan voortgaan met sy uitdagende houding en ’n tweede waterstofbom in die Stille Oseaan kan laat ontplof.

Die boodskap is aan die wêreld gerig deur Noord-Korea se minister van buitelandse sake, Ri Yong Ho, voor ’n aantal joernaliste tydens sy besoek aan New York.

Hy het die opmerking gemaak enkele ure na die toespraak van president Donald Trump waarin hy Noord-Korea ernstig gewaarsku het.

President Trump het Pyongyang gewaarsku dat hy enige bedreiging sou beantwoord met ’n algehele vernietiging van Noord-Korea, waarop Kim Jong-Un gesê het Amerika sal nog duur betaal vir sy optrede met die verskerpte sanksies.

Hy sê die tydsbepaling vir ’n tweede toets van nog ’n waterstofbom sal deur die leier, Kim Jong-Un beslis word,

Die kommunistiese regime het later gesê die bedreiging van president Trump maak dit onvermydelik dat ’n aanval op die VSA uitgevoer gaan word.

Foto – Ri Yong Ho