Motorrubriek – Porsche 911 Carrera GTS PDK

 

Wanneer daar aan die Porsche 911 Carrera GTS gedink word gaan ‘n mens se gedagtes onwillekeurig terug na die dae toe die eerstes in die 1960’s op die toneel verskyn het. Sedertdien het dit eenvoudig van krag tot krag gegaan.

Wanneer die stuurwiel kiesskakelaar geskakel word na sport+, is die sportmotor in sy element – nie dat dit ooit uit is nie. Wanneer jou linkervoet die rempedaal vastrap, jou regtervoet die brandstofpedaal ten die vloer trap en jy wag daardie oomblik dat die toerbeperker in werking tree en jy glip jou linkervoet van die rempedaal af, word jy teen die sitplek se rugleuning vasgedruk en jy kan jou self verbeel dit is hoe dit moet voel wanneer ‘n Boeing die aanloopbaan verlaat. Dit is wanneer 331kW ingespan word en 550 Nm wringkrag inwerking tree en die versnelling van 0 tot 100km/u slegs 3,43 sekondes neem.

Bogenoemde is nie die aangewese manier om die Porsche te bestuur nie maar wanneer daar vir ‘n oomblik toegegee word aan die versoeking en dit word gedoen, dan besef ‘n mens hierdie is ‘n sportmotor in die ware sin van die woord. Dit is egter nie net ‘n sportmotor wat jou verbeelding aangryp nie, dit kan ook as ‘n alledaagse gebruiksmotor ingespan word. Wanneer daar agter die stuurwiel ingeskuif word en jy plaas jou hande op die stuurwiel, is die toerusting binne maklike bereik van jou hande en die beheer skakelaars van verskeie van die toerusting, kan met gemak beheer word. Die leer-en Alcantara bedekking van die  sitplekke is ideaal en neem die vorm van jou liggaam aan.  Van die nuwe kenmerke van die voertuig is dat die bakwerk breër is, daar is bykomende krag beskikbaar, PDK ratkas is deel van die standaard toerusting, Porsche Dynamic Chassis Control (PDCC) en 20 duim allooi wielnawe met middel-wiel vasdraai stelsel. Om die buite prentjie verder af te rond pas die wiele netjies, vol in die modderskerms en die verskillende luginlate sorg vir verdere afwerking.

Aan die agterkant gaan die agterligte om die hoeke, twee uitlaat pype steek deur ‘n swart plastiek omhulsel en die drukvlerk sorg dat daar werklik afwaartse druk op die agterkant van die motor toegepas word en dit tesame met die agter-as stuurstelsel, verseker beter padhouvermoë en alhoewel die padgedrag ferm is, is dit nie ongerieflik nie. Met die druk van ‘n knoppie word die uitlaatstelsel verander na ‘n “sportstelsel” en word die Porsche se enjin klank na ‘n diep “grom” geluid verander.

Die instrument paneel huisves al die instrumente wat nodig is in so ‘n motor en selfs nog meer. Die kort rathefboom “pas soos ‘n vuis op ‘n oog” in jou handpalm en wanneer op die pad, geskied die oorskakeling van die 7 spoed, PDK ratkas moeiteloos. Elke keer wanneer daar ‘n rat oorskakeling plaasvind, word die enjin toere vir ‘n oomblik verhoog om maksimum reaksie uit die ses silinder Boxer enjin te verkry.

Hierdie motor van uit die bekende Duitse stal het eintlik nie kompetisie in hierdie prysklas nie en vir heelwat minder kry jy ‘n sportmotor van formaat.