Motorrubriek – Mazda MX-5 RF

 

Die Mazda MX-5 is al sedert 1989 met ons en selfs vandag is die ouer voertuie baie gewild en dit is eintlik moeilik om dit tweedehands te bekom. In algemene spreektaal staan dit ook bekend as die “Miata”.

Die “RF” is die afkorting vir “Retractable Fastback” en alhoewel die middelste gedeelte van die dak wegvou, is die bakwerk stewig gebou sodat dit meer na ‘n koepee lyk wanneer dit in plek is. Met die middelste gedeelte weg gevou is daar wel windgeraas teenwoordig en bokant 100 km/ uur is dit moeilik om die radio te hoor maar dit is nie irriterend nie want aan die einde van die dag is dit ‘n sportmotor.

Op hierdie stadium word slegs ‘n standaard handratkas gebruik om die krag van die 2.0 liter Sky Activ-G kragbron oor te dra na die agterwiele waar ‘n beperkte glip ewenaar sorg dat wieltol beperk word. Hierdie dubbel oorhoofse nokas, 16 klep, vier silinder enjin is in staat om die motor van 0 tot 100 km/u te laat versnel in nagenoeg 8,6 sekondes. 118 kW is beskikbaar teen 6000 o.p.m en die wringkrag van 200 Nm is beskikbaar by 4600 o.p.m. Volgens die vervaardiger is dit in staat tot ‘n topsnelheid van 194 km/u en die brandstofverbruik is 7.1l/100 km.

Die gemaklikste manier om die voertuig te betree is om eers te gaan sit op die sitplek en dan jou bene in die voertuig in te swaai. Dan is die maklik leesbare instrumente in drie afsonderlike houers reg voor die bestuurder gemonteer en dit huisves die snelheidsmeter, toereteller en brandstof meter en ander instrumente. Alle ander toebehore soos die aanraakskerm, radio, lugversorger beheer skakelaars ensovoorts is alles binne maklike bereikbare afstand van die bestuurder gemonteer. Die rathefboom pas gemaklik in die handpalm en die oorskakeling is seepglad en sonder moeite.

‘n Elle lang lys van toebehore is gemonteer en onder dit tel toerusting soos vier lugsakke, ABS remme met EBD en EBA ondersteuning, dinamiese stabiliteitsbeheer, blinde kol waarskuwing, LED hoofligte wat outomaties gedomp word wanneer ander verkeer op die pad jou van vooraf nader, waarskuwing wanneer daar van baan op die pad verander word ensovoorts.

Die sierlike vloeiende lyne van die bakwerk sorg dat die windweerstand tot die minimum beperk word en wanneer op die snelweg, is dit ‘n genoeglike ondervinding om somtyds die brandstof pedaal plat te trap en teen die sitplek rugleuning vasgedruk te word. Daar is plek vir twee insittendes maar gerief is nie ‘n probleem nie. Daar is meer as genoeg plek beskikbaar en met die verskillende verstelling opsies van die sitplekke, kan ‘n gemaklike sit posisie bekom word.

45-profiel Bridgestone bande is op allooiwielnawe gepas en omdat pakplek in die bagasieruim beperk is, is daar nie ‘n noodwiel nie maar daar is wel hersteltoerusting beskikbaar om ‘n bandlek te herstel.

Om hierdie motor ten volle te geniet, moet die afslaankap, wat slegs 14 sekondes neem om weggevou te word, nie in plek wees nie. U kan gerus u naaste Mazda handelaar gaan besoek en dit vir ‘n toetsrit neem.