Michealmas-daisy / Aster amellus

Aster amellus, of soos ons dit almal ken “Michealmas-daisy” is mos oral in ons Suid Afrikaanse tuine te sien en ook in al die kleure van wit tot pers en blou. Dit is van die vriendelikste blommetjies en blom oorvloedig. Dit is ‘n meerjarige plant en is oral in die wêreld te sien. Dit groei ook in die koue lande net so goed as in die warm lande soos Suid Afrika. Hulle groei ook goed in klipperige tuine en kan redelik droogte weerstaan. Hulle groei ook baie goed in tropiese gebiede.

Michealmas-daisy is van die Asteraceae familie en die genus is Aster. Die blommetjies van hierdie plante is kleiner as ons gewone asters en hulle groei ook aan korter stingeltjies. Die plante groei baie dig en elke plantjie vorm ‘n baie digte plant. Dit kan ook as grondbedekker aangeplant word.

Aster amellus groei tussen 20 en 50 cm hoog. Die stamme is regop en die takke groei dig opmekaar. Die blaartjies van die plant is langwerpig en donkergroen en smal. Hierdie plante blom van Julie tot Oktober. Dit kan verdeel word om voort te plant. Dit maak ook saad nadat dit geblom het in Oktober.  Die beste is om by die kwekerye plante te gaan koop wat reeds gevestig is en dit in die tuin uit te plant. Dit lok allerhande goggatjies na die tuin.

In die blommetaal, simboliseer die Michealmas-daisy ‘n afskeid of vertrek van iemand spesiaals. Die genus naam (aster) is afgelei uit Grieks wat beteken “stervormige blom”.

Tuiniers, u kan gerus ‘n hele bedding van hierdie astertjies aanplant. Die beloning is groot wanneer hulle blom.

Geniet u tuin tot volgende keer