Merkel se koalisie onderhandelinge gedoem

Daar is tekens van erge frustrasie onder kanselier Angela Merkel se meer konserwatiewe deel oor die Groenes en die Vrye Demokrate wat genader moet word om te regeer in ’n koalisie bestaande uit vier politieke partye.

Die tweede dag van onderhandelinge het nie veel opgelewer nie, en slegs die minder belangrike sake kon bespreek word sonder om die onderhandelaars uitmekaar te jaag.

Om dit nog moeiliker te maak, is daar getroue ondersteuners en van die senior lede van Merkel se CDU wat haar kop eis met die moontlikheid dat twee vyandige partye in die koalisie opgeneem moet word onder voorwaardes wat nie gunstig is vir die konserwatiewes nie.

Met die CDU wat nou in die swakste posisie is sedert 1949, lyk sake uiters moeilik vir die regerende koalisie, en is die verwagting dat die twee kleiner partye dit sal gebruik in hulle bedinging.

Merkel moet ook rekening hou met die onverdraagsaamheid wat heers tussen die Groenes en die Vrye Demokrate weens hulle beleid wat presies die teenoorgestelde doelwitte het. Die Groenes wil beperkinge plaas op nyweraars en handelaars, terwyl die Vrye Demokrate groter vryhede aan hulle wil toestaan.