Merkel koalisie in hoek gedryf

Kanselier Angela Merkel wil graag met die linkse Groen Party en die Vrye Demokrate, asook die Sosiaal Demokrate se leiers in gesprek tree.

Hierdie aankondiging kom kort na die afloop van die Duitse federale verkiesing waarin die koalisiepartye van Merkel nie daarin kon slaag om ’n meerderheid te kry nie.

Sy is nou genoodsaak om met die vyande tot ’n vergelyk te kom in die hoop dat hulle sal instem op voorwaardes wat sy kwalik kan bekostig sonder om nog meer steun te verloor.

Kanselier Merkel se vierde termyn in die Duitse politiek gaan aansienlik verander, en kan selfs lei tot algehele ineenstorting as belangrike besluite geneem moet word.

Met die Groenes en die Vrye Demokrate as moontlike bykomende vennote in die koalisieregering, gaan sy talle beginsels moet prysgee en boonop die voortdurende kritiek van die nasionalistiese AfD moet verduur.

Die leiers van die Alternatief vir Duitsland (AfD) het aangedui dat hulle dit baie onaangenaam gaan maak vir kanselier Merkel, en deurlopend druk op haar sal sit in die Bundestag, veral nou na die uittrede van die meer gematigde en kalm dr. Frauke Petry.