“Mense in Blou sal sterf vir boere”

Die land het ‘n verantwoordelikheid teenoor boere, en hy het die versekering gegee dat die mense in Blou bereid is om te sterf om boere veilig te hou.

Dit was die boodskap van genl. maj. JP Scheepers, adjunk kommissaris van die polisie in die Noorde, aan verteenwoordigers van die landbougemeenskap na die ondertekening van die provinsie se nuwe Landelike Veiligheidstrategie.

Genl. Scheepers het ‘n oproep op mense gedoen om nie langer stil te bly as dit lyk of enige lid van die polisie nie besig om diens te lewer of om sy werk te doen nie. Hy het plaasaanvalle beskryf as ‘n gif wat almal gaan vernietig, want as daar geen boere is nie, is daar geen kos nie. Genl. Scheepers het gesê “almal moet saamstaan om die boere te beskerm en sê genoeg is nou genoeg.”

“Genl. Scheepers se woorde is bemoedigend vir die landbougemeenskap, en ons hoop werklik dat hy nie die spreekwoordelike swaeltjie is wat nog nie die somer beteken nie. Sy woorde dat plaasaanvalle nie met die nuwe plan summier gestop sal word nie, getuig ook van ‘n realisme sonder dat valse hoop of verwagtinge geskep word. Ons hoop dat genl. Scheepers en sy span die ondersteuning kry ook van sy hoofde en politieke hoofde, want dit sal bydra tot die sleutel van sukses,” sê mnr. Henk van de Graaf, voorsitter van TLU SA se Noord-Streek.  “TLU SA kan nie wag om die resultate te sien van die provinsiale Landelike Veiligheidstrategie vir Limpopo nie.”

Foto: Genl. JP Scheepers