Macron se invloed taan

Die sosialistiese president van Frankryk, Emmanuel Macron, het in ’n media onderhoud gesê die lidlande van die Europese Unie moet gesamentlik ’n nuwe roete vind.

Macron het sy visie en drome vir die hervorming van die Europese Unie bekendgemaak te midde van die Duitse kanselier se vernederende posisie na die afgelope verkiesing waarin sy nou met drie partye ’n koalisie moet vorm om te regeer.

Macron het in sy “troosrede” aangevoer dat Frankryk en Duitsland daarin kon slaag om die tragedie van twee wêreldoorloë te oorleef as vennote, en sal ook nou as vennote saamwerk in die Europese Unie.

Angela Merkel se swak vertoning in die afgelope verkiesing en Emmanuel Macron se nederlaag met die verkiesing van senatore het ’n nuwe dimensie in die twee lande se politieke toekoms ingelui, wat slegs met tyd duidelik sal word.

Kenners meen die twee leiers se swak vertonings het hulle invloed onder die EU lidlande laat daal tot ’n vlak waar Macron se hervorming nie maklik aanvaar sal word deur lidlande nie.

Macron het egter toegegee dat die Europese Unie meer broos is as wat hy nog ooit in sy bestaan was, en wil nou hervormings teweegbring om die ander lidlande te behou.

Vrees bestaan dat die uittrede van die Verenigde Koninkryk ander lande soos Pole en Hongarye kan motiveer om dieselfde optrede te volg, wat vir die organisasie se doodsklok sal laat lui.

Daarmee in gedagte sal Macron weer met slim woordspeling die lidlande op ’n pad van hervorming probeer neem.

Om dit te doen, het hy gal gebraak oor die herlewing van nasionalisme en identiteit bewustheid in Europa en bygevoeg dat globalisme gehandhaaf moet word as teenvoeter vir die bedreigings.

Macron wil as deel van sy visie die 19 lidlande van die Eurozone toerus met ’n eie parlement, asook ’n minister van finansies, wat ’n eie begroting het en geheel onafhanklik staan van die Europese Unie en sy 28 lidlande.

Om dit te bereik, benodig hy kanselier Merkel se ondersteuning, maar met die leiers se verswakte invloed, sal rekening gehou moet word.

Foto – President Emmanuel Macron