Koerde stem oorweldigend vir vryheid

Die finale resultaat van die Koerdiese referendum in Irak het ’n oorweldigende steun vir vryheid getoon, maar die Irakse regering eis dat dit ’n onwettige en ongrondwetlike stemming was wat nie erkenning sal geniet nie.

Die regerings van Bagdad, Teheran en Ankara het die Koerdiese leiers gedreig met militêre optrede indien hulle die uitslag as mandaat gebruik om onafhanklikheid te verklaar vir die gebied.

Die Koerde in die noordelike deel van Irak het ’n oortuigende “ja” uitgebring vir onafhanklikheid, en met 3,3 miljoen stemme wat uitgebring is, het 92,7% ten gunste van onafhanklikheid gestem.

Met ’n stempersentasie van net meer as 72%, het die Koerdiese leiers ’n sterk mandaat gekry om voort te gaan om ’n onafhanklike staat te vestig.

Die eerste minister van Irak het intussen gesê die regering sal nie enige gesprek met die Koerde voer as dit op die uitslag van die referendum as vertrekpunt is nie.

Politieke ontleders wys daarop dat die Koerdiese soldate die belangrike oorwinnings bewerkstellig het teen die Islamitiese Staat en daarmee die Irakse weermag tot oorwinnings gelei het.

Nou dreig die weermag om die Koerde militêr aan te val na die uitslag van die referendum bekend geword het.