Koalisiemag verslaan IS terroriste

Die Koalisiemag onder leiding van die Verenigde State het die Islamitiese Staat (IS) terroriste in die strategiese stad Tel Afar na dae van hewige gevegte, finaal verslaan en uit die stad verdryf.

Die slagting word as ’n klinkende oorwinning vir die Irakse weermag bestempel, maar dit sou waarskynlik nie sonder die vernuf van die Koerdiese soldate en lugaanvalle van Amerikaanse vegvliegtuie gedoen kon word nie.

’n Woordvoerder van die Amerikaanse weermag het egter gewaarsku dat die terroriste se leiers in die stad heelwaarskynlik nog lewe.

Die Irakse weermag het die oorwinning bestempel as ’n belangrike mylpaal om die terroriste geheel en al uit die land te dryf, en sê die jongste oorwinning is ook ’n bevryding vir die stad en sy inwoners.

Tal Afar is bevry nadat sukses behaal is met die bevryding van Mosoel, wat sowat 70 kilometer weg is, maar kenners wys daarop dat die stryd nog lank nie verby is om die Islamitiese Staat finaal te vernietig nie.

Tal Afar is op ’n belangrike handelsroete tussen Iran en Sirië geleë en maak handel tussen die twee lande weer moontlik alhoewel weermag soldate nog ’n geruime tyd in die stad moet aanbly om te verseker dat die roete oopgehou word.

Amerikaanse weermag offisiere het gewaarsku dat dit steeds ’n reuse uitdaging is om die stad teen herbesetting van terroriste te beveilig om sodoende die handelsroete oop te hou.