Kernkrag toets of aardbewing?

Die regering van Suid-Korea het ’n dringende vergadering van die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad aangevra nadat vasgestel is dat ’n hewige skudding in Noord-Korea waargeneem is.

Die skudding kom kort nadat die kommunistiese staat blykbaar toetse gedoen het om ’n waterstofbom te ontwikkel, maar die moontlikheid is ook dat die gebied deur ’n natuurlike aardbewing getref is.

Wetenskaplikes sê dit wil lyk asof die skudding ’n mensgemaakte oorsaak het, wat beteken dat dit heelwaarskynlik ’n waterstofbom is wat getoets is.

Die militêre woordvoerder in Suid-Korea het later gesê die skudding  wat 6,3 op die Richterskaal geregistreer het, kon wel ’n aardbewing gewees het, maar sluit nie die moontlikheid uit dat dit ’n kernkrag toets was nie.

Woordvoerders in Amerika het die voorval as ’n “moontlike ontploffing” beskryf,  en Sjina het bevestig dat die Richterskaal op 6,3 te staan gekom het wat ’n moontlike “ontploffing” kon gewees het.

Die skudding volg kort nadat Noord-Korea aangekondig het dat hy ’n nuwe bom ontwikkel het “met ’n super ontploffingskrag”.

Die kommunistiese leier, Kim Jong-Un het gesê die nuwe bom is met 100% plaaslike materiaal vervaardig maar deskundiges twyfel oor die waarheid van die opmerking en reken Sjina en Rusland het hand bygesit.