Kataloniërs woedend oor leiers se inhegtenisneming

Die president van die streeksregering in Katalonië het die minderheidsregering van Spanje daarvan beskuldig dat hulle ’n noodtoestand afgekondig het wat van toepassing is op die noordoostelike deel van Spanje.

Daarmee het Madrid ook die finansiële middele afgesny en minstens 13 Kataloniese leiers in hegtenis geneem.

Die optrede volg nadat Katalonië aangekondig het dat hulle voortgaan met reëlings en die veldtog om op 1 Oktober ’n referendum te hou oor onafhanklikheid.

Kataloniërs streef reeds vir jare daarna om weg te breek van Spanje en as ’n soewereine staat te funksioneer, maar is telkens deur die Spaanse regering daartoe verhinder.

Onder die 13 leiers wat in die hoofstad Barcelona gevange geneem is, is onder andere die minister van finansies en ekonomie, Josep Maria Jové.

Die Spaanse regering het intussen die verkose regering van Katalonië se outonomie opgeskort nadat die noodtoestand afgekondig is.

Die optrede van Madrid het kiesers in Katalonië woedend gemaak, en het hulle in die strate van Barcelona betoog en ondermeer ’n reuse stembus vertoon waarop gevra is of “dit die rede is waarom Spanje mense in hegtenis neem”.

Die spanning wat die afgelope week aan die oplaai is, het byna breekpunt bereik, en kommer bestaan dat geweld kan uitbreek indien die Spaanse regering nie meer taktvol optree nie.