Kataloniërs maak gereed vir verkiesing

Parlementslede van Katalonië het ’n wet deurgevoer wat die weg baan vir ’n referendum oor onafhanklikwording en afskeiding van Spanje.

Die referendum wat gehou sal word, is reeds deur die regering van Spanje verwerp en het gesê dit is ’n onwettige handeling wat kan lei tot ’n baie ernstige grondwetlike krisis.

Die streeksparlement van Katalonië het die week die groen lig gegee vir die voortgaan met reëlings vir die referendum wat in die noordoostelike deel van Spanje gehou sal word.

Die parlement het na ’n elf uur lange debat die “referendum wet” goedgekeur met 72 stemme teen 52 van opposisielede, terwyl elf lede buite stemming gebly het.

Die parlement se besluit om ’n referendum te hou, is direk in stryd met die beslissing van die hoogste hof in Spanje wat gedurende Februarie bevind het dat so ’n referendum ongeldig sou wees.

Katalonië se president, Carles Puigdemont, en sy regerende party, het egter vroeër gesê die beslissing van die Spaanse howe word nie erken nie omdat die Kataloniërs self oor hulle toekoms sal besluit en nie die howe van Spanje nie.

Die mees welvarende streek in Spanje sal dus op 1 Oktober gereed wees met stemlokale waarby die kiesers hulle mening kan gee oor die wenslikheid vir ’n onafhanklike staat.