Katalonië referendum veldtog begin

Kataloniërs het begin met die finale veldtog om ’n referendum te hou op 1 Oktober met die doel om te beslis oor die onafhanklikheid van die streek.

Leiers in die streek het kennis gegee dat die instuur van finansiële verslae en rekeninge na Madrid, gestop word.

Honderde leiers en voorstanders van onafhanklikheid het Donderdag saamgekom in die groot “bul-ring” van Tarragona om die openingseremonie van die referendum veldtog mee te maak.

’n Positiewe ja-stem vir onafhanklikheid sal meebring dat Katalonië wegbreek as ’n onafhanklike staat en nie meer deel sal wees van Spanje nie.

Die minderheidsregering van Spanje het egter gewaarsku dat opgetree gaan word teen die burgemeesters van die streek wat meedoen aan die referendum, en het kiesers gevra om weg te bly van die stembus op 1 Oktober.

Die polisie het opdrag gekry om stembusse te konfiskeer, en burgemeesters wat afvaardigings ignoreer, in hegtenis te neem.

Intussen het leiers in Katalonië ’n versoek gerig tot Madrid om in gesprek te tree ten einde ’n politieke krisis te voorkom, maar dit blyk dat die minderheidsregering van Madrid nie entoesiasties is om aan die versoek te voldoen nie, en het reeds al Spanje se meganismes in werking gestel om die referendum op 1 Oktober te kelder.

Die Vryburger het betroubaar verneem dat meer as 700 burgemeesters Saterdag saamgetrek het in Barcelona om hul solidariteit te toon vir die ondersteuning van die referendum oor onafhanklikheid, te midde van die moontlikheid om deur die Spaanse polisie in hegtenis geneem te word.