Italiaanse nasionaliste kies nuwe leier

Die jong dinamiese Luigi Di Maio  (31) is die afgelope naweek in Italië verkies tot nuwe leier van die nasionalistiese Vyf Ster Beweging.

Die beweging se groei het sodanig toegeneem dat verskeie meningsvormers die moontlikheid sien dat die jong leier die volgende eerste minister kan word.

Die regerende Demokratiese Party in Italië se gewildheid is aan die afneem omdat die party maatreëls deurgevoer het wat nasionalistiese partye benadeel.

Volgens meningspeilings het die Vyf Ster Beweging die grootste steun van alle partye in die land wat gunstig is vir ’n algehele oorwinning in volgende jaar se algemene verkiesing.

Luigi Di Maio het in 2013, in die ouderdom van 26 jaar, die jongste persoon in Italië geword wat verkies is tot die land se parlement, en is kort daarna gekies as visepresident van die parlementêre Laer Huis.

Verlede Saterdag is hy teen sewe ander genomineerdes gekies as leier om ook die beweging se eerste minister te word indien hulle die verkiesing sou wen.

Die Vyf Ster Beweging wat ook bekend is as M55 het reeds ’n sterk indruk gemaak op die Italiaanse kiesers, en sy dinamiese leier sal na verwagting die M55 nog tot groot hoogtes lei.

Foto – Luigi Di Maio