IS-terroriste kry galbitter verhoor

Die howe in Irak is besig om gereed te maak vir die verhoor van Islamitiese Staat terroriste wat die afgelope weke in hegtenis geneem is deur die Irakse weermag soldate.

Kommer bestaan in Westerse lande oor die aard van die verhore en sekere meningsvormers is nie oortuig daarvan dat die geweldenaars ’n regverdige verhoor sal kry nie.

’n Woordvoerder van die Irakse hoërhof sê meer as 50 sake word per dag deur tien regters afgehandel, en word deur ses aanklaers bygestaan.

Die terroriste word swaar strawwe opgelê, maar dit is merkwaardig dat geeneen se vonnis bekend gemaak is nie, wat die vermoede laat dat hulle die doodstraf sal kry.

Daar bestaan ’n wrok by talle burgerlikes in Irak wat familie en vriende verloor het weens die optrede van die terroriste, en daarom sal geen genade betoon word in die verhoor en uitspraak nie, word gesê.

Ingeligte waarnemers meen die verhore wat kort en “gevoelloos” afgehandel word, voorspel niks goeds vir die terroriste nie.