Is God dan nie onregverdig om van ons die onmoontlike te verwag nie?

Gen 3:13  Daarop sê die HERE (YHWH) God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.

Ons het in Eksodus gesien dat God die skuldige nie onskuldig sal verklaar nie. Daar is géén sonde wat ongestraf kan bly nie!

As selfs Paulus worstel met homself, hy sê in Romeine: “Want wat ek doen, weet ek nie; want wat ek wil, dit doen ek nie, maar wat ek haat, dit doen ek. (7:15)”, hoeveel te meer ons! Ons weet ons kan nie sondeloos lewe nie en tog is dit wat ons Vader van ons eis, is dit nie onregverdig nie?

Wanneer dié gedagte by my opkom, moet ek dadelik onthou dat God die mens nie só (sondig) gemaak het nie, maar dat dit die mens is wat gekies het (Gen. 3:13) om in sy eie belang te handel en daarmee het Adam en Eva die hele mensdom in sonde gedompel aangesien ons van toe af die sonde van ons ouers erf! Behalwe wat ons erf, is ook my verstand deur die sondeval aangetas (anders as wat Rome leer) en daarom dat ek ook as gevolg dáárvan sonde doen.

Hoe meer ek dít onthou hoe groter my waardering vir my verlossing in Christus! Net soos die sondeval my hele bestaan insluit, is my verlossing in Christus volkome. Elke sonde, geërf, gedoen of gedink. ‘n Volkome verlossing!

Gebed:
Hemelse Vader dra my asseblief in my stryd teen die sonde, dat ek, al weet ek, ek kan nooit sondeloos lewe nie, ek nooit sal ophou probeer om sondeloos te lewe nie. Dankie, dat U my dit in Christus vergewe!

Amen