Huiskopers nie aanspreeklik vir voorgangers se skuld

Die VF Plus steun die uitspraak van die Grondwethof dat nuwe huiseienaars nie aanspreeklik gehou kan word vir historiese munisipale skuld nie en beskou dit as ʼn voorbeeld waar rede en regverdigheid oor wanbestuur en onbillike praktyke van plaaslike regerings geseëvier het, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Adv. Alberts sê dit het op geen gronde sin gemaak dat plaaslike rade eienaars van grond verantwoordelik kon hou vir die uitstaande skuld van vorige eienaars nie.

Hy sê die uitspraak raak ook rade waar koalisieregerings tans regeer en wat gebuk gaan onder hoë skuld weens die wanbestuur van die vorige ANC-regering.

“Alhoewel die uitspraak die betrokke geldkraan toegedraai het vir die nuwe plaaslike regerings wat wel probeer om die administrasie in die betrokke stede reg te ruk – ook waar die VF Plus self deel van die koalisies vorm – is die party van mening dat die bevinding rasioneel en billik is.

“Die inwoners van elke stad en dorp moet eerste gestel word en die koalisieregerings sal eenvoudig net ander kreatiewe en billike wyses moet vind om die skuldlas van die stadsrade te bestuur en die administrasie reg te ruk,” sê adv. Alberts.