Hongarye eis miljoene van EU

Die Hongaarse eerste minister, Viktor Orban, het ’n brief gerig tot die Europese Unie waarin hy versoek dat die liggaam ‘n bedrag van 400 miljoen euro beskikbaar moet stel aan Hongarye om die land se grense skerper af te baken.

Die premier se brief is direk aan die Europese Kommissie se voorsitter, Jean-Claude Juncker gerig waarin versoek word dat Hongarye tegemoet gekom word om die land se grense beter te beheer deur behoorlike afbakening van die suidelike grens met Serwië.

Boedapest se eis hou direk verband met die instroming van onwettige immigrante wat via die suidelike buurland na Hongarye probeer deurgaan.

Premier Orban sê in sy brief dat wanneer gepraat word van solidariteit, het die EU nou die geleentheid om dit te demonstreer deur hulp te verleen.

Volgens die premier moet die Europese Unie die helfte van die 800 miljoen euro betaal nadat Hongarye die uitgawe moes aangaan om sy grense te bewaak teen vreemdelinge.

Viktor Orban is daarvoor bekend dat hy nie veel verdraagsaamheid openbaar teenoor die EU nie, en sê Hongarye het die grense beter bewaak en daarmee die hele Europa se veiligheid bevorder deur onwettige immigrante uit te hou.