Gouereën klimplant / Golden Shower / Pyrostegia venusta

Die gouereën klimplant is darem maar iets vir die oog wanneer ons verby al die tuine ry.  Hierdie klimplant maak ‘n pragtige heining  wat heeljaar deur spog met sy geel/oranje kleure.

Die naam “Pyrostegia venusta” beteken mooi vlam bedekker. Gouereën is ‘n immergroen plant en groei vinnig en sterk. Hierdie plante is in die familie Bignoniaceae en is verbind met die jakarandas. Gouereën kom oorspronklik van Brasilië, Argentinië, Bolivia en Peru.

Hulle groei baie welig en rank sommer vinnig ‘n heining mooi toe en groei ook hoog. Indien dit ‘n sterk heining het om die ranke op te lei, word die plant tot 10 meter hoog. Dit dek ook groot areas op die grond want hulle word tot 3 meter in diameter. Indien hulle nie ‘n sterk heining het om te rank nie, kan hulle dalk die heining laat omval.

Hierdie plante word hoofsaaklik vir heinings en landskapering aangeplant. Dit kan van steggies geplant word. Waar die ranke op die grond begin lê, kan hulle wortelskiet en sodoende vermeerder. In sommige lande is dit reeds as ‘n onkruid verklaar.  Die stamme van hierdie plant is sterk en dik waar die ranke begin. Gouereën is heldergroen met gladde blink ovaal blare met ‘n sterk aar in die middel. Hulle kan enige tyd van die jaar in volson of halfskadu geplant word. Gee dit net medium water. Gouereën lok skoenlappers en verskillende voëltjies na die tuin. Hulle is ook nie geneig tot allerhande siektes nie.

Tuiniers, die somer is op hande en mag u ‘n wonderlike blommeprag beleef. Tuingroete tot volgende keer.