Frauke Petry stig nuwe party

Die twee lede van die Alternatief vir Duitsland (AfD) wat die afgelope week bedank het uit die party, is klaarblyklik besig met hulle voorbereidingswerk om ’n nuwe politieke party te stig sonder die meer radikale elemente wat tot die wegbreek gelei het.

Dr. Frauke Petry en haar eggenoot, Marcus Pretzell, het die afgelope week uit die AfD padgegee nadat Petry aangekondig het dat sy nie saam met die ander leiersfigure van die AfD in die federale parlement gesien sal word nie.

Die egpaar wil blykbaar in ’n  nuwe politieke party hulle plek inneem in die Bundestag aangesien hulle glo dat die AfD “gedoem is tot mislukking”.

Petry se aankondiging tydens ’n perskonferensie van die AfD dat sy die party verlaat, het ’n skudding veroorsaak en koerante in Duitsland het baljaar oor die onverwagse nuus.

Die 42-jarige dr. Petry het daarin geslaag om as voorsitter van die AfD, dié party tot sy huidige status gelei, en waarnemers meen haar sterk oorwinning in Sakse tydens die afgelope verkiesing, toe sy meer as 37% van die stemme getrek het, kan haar ’n goeie begin gee vir ’n nuwe party wat geskoei kan wees op die Franse model van president Emmanuel Macron wat in ’n kort tyd ’n sterk party geword het.

Foto –  Frauke Petry en, Marcus Pretzell