Franse senaatsverkiesing kan Macron kortwiek

Die afgelope naweek het Frankryk sy senaatsverkiesing gehad en die regse meerderheid in die Franse Hoërhuis is  verder vergroot wat president Macron se taak verder bemoeilik.

Politieke ontleders sê die verkiesing was ’n uitermatige beproewing vir Emmanuel Macron wat tans besig is met sy arbeidshervorming wat groot onmin onder kiesers veroorsaak.

Die Senaatsverkiesing is die laaste fase in die 2017 verkiesings van Frankryk, en alhoewel Frankryk nie veel erg het aan die verkiesing se uitslag nie, bly dit van groot belang dat die behoudende Franse die verkiesing wen met ’n sterk meerderheid in die Senaat.

Met die steeds dalende steun vir president Macron, was dit reeds vroeg duidelik dat die Senaat verder verstewig vir die regses.

Die senaat word gekies deur parlementslede, burgemeesters en plaaslik verkose burgers, wat ’n totaal van net meer as 76 000 stemgeregtigdes uitmaak.

Die 348 senatore kan egter nie die president se hervormingswetgewing oor arbeid kelder nie, maar kan wel die inwerkingtreding daarvan vertraag.

Die Senaat se goedkeuring is egter nodig vir enige grondwetwysigings wat aangebring wil word.

Foto – President Emmanuel Macron