E-tol instrumente steeds nie reg

Feitlik twee jaar nadat die VF Plus Sanral die eerste keer aangevat het oor die feit dat sy etol-meetinstrumente nie gesertifiseer is soos vereis word deur die Regsmetrologiewet 9 van 2014 nie, is dit steeds nie gedoen nie, sê adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus.

Volgens adv. Alberts het die hoof van die Nasionale Reguleerder oor Verpligte Spesifikasies (NRVS) dit op ʼn vraag van adv. Alberts bevestig met terugvoer oor die liggaam se jaarverslag aan die parlementêre portefeuljekomitee oor handel en nywerheid.

Die NRVS het reeds in November 2015 skriftelik aan die VF Plus bevestig die instrumente is nie gesertifiseer nie.

Adv. Alberts het aan die persoon gevra of die NRVS al standaarde en spesifikasies geskep het vir die e-tolstelsel soos vereis deur die Regsmetrologiewet, en indien wel, of die e-tolstelsel daaraan voldoen.

“Hy het geantwoord dat daar nog geen standaarde vir die e-tolstelsel bestaan nie en dat dit nog ontwikkel moet word.

“Die antwoord is verstommend aangesien dit beteken dat die e-tolstelsel, benewens al die ander onwettige aspekte soos deur OUTA uitgewys, tegnies nie verantwoordbaar is in terme van die  Regsmetrologiewet nie en dat Sanral daarom nie kan bewys dat enige rekening deur hom uitgereik wel korrek is en as bewysmateriaal in ʼn hof kan dien nie.

“Noudat Sanral self onseker raak oor die volhoubaarheid van die stelsel, is die tyd ryp vir die regering om die e-tolstelsel finaal af te skaf en om deur ʼn tydelike brandstofheffing die skuld te delg vir die opgradering van Gauteng se paaie,” sê adv. Alberts.