Duiwe – Uitslae

Die uitslae van verlede Saterdag se wedvlug vanaf Richmond (760 km) na Pretoria toon dat die weer ietwat gunstig vir die duiwe was. Alles was redelik en die vinnigste spoed was 1403 mpm of te wel 84 km per uur. Dit dui ook daarop dat die duiwe nie dors geword het en langs die pad water gedrink het nie. Hulle pootjies was skoon van enige modder.

Van water drink gepraat, terwyl die duiwe vervoer word, is hulle drinkbakke op die vragmotor voortdurend vol vars water. Voordat die duiwe losgelaat word, word seker gemaak dat hulle die oggend genoeg daglig het om weer te drink. Een probleem wat duiweboere probeer voorkom, is dat die duiwe oor die goudvelde in die Vrystaat en oor die Witwatersrand dors is. As dit sou gebeur, is die duiwe haastig en drink hulle vinnig van die giftige mynwater.

Dit is interessant om te sien hoe duiwe oor ‘n dam vlieg en water drink. As hulle nie rus nodig het nie, is hulle haastig, vlieg laag oor die water en skepsuig die water in die vlug op. As hulle baie moeg is, soos in moeilike weersomstandighede, gaan sit hulle by die vlak water en dit is wanneer daar effens modder aan hulle pote kom.

Eerskomende Saterdag 30 September se wedvlug vind weer vanaf Cradock (755 km) plaas. Voorlopig lyk dit asof dit weer ‘n redelik normale wedvlug sal wees.