Duiwe – uitslae

Verlede Saterdag se wedvlug vanaf Cradock na Pretoria was die weer redelik normaal met min wind en bewolktheid en ook geen reën nie. Die verwagting was dat die duiwe na ongeveer nege ure sou tuiskom, wat dan ook gebeur het. Dit is ongeveer so lank soos met ‘n motor gery word as jy binne die spoedgrens hou. Die voordeel van die duif is dat hy nie padlangs vlieg nie en dus die draaie uitsny.

Hierdie keer was die wenduif se spoed 1389,3927 mpm (=  83 km per uur). Die ander duiwe was kort op sy hakke of stert. Weer eens word daarop gewys dat dit nie net die duiwe is wat presteer nie. Die eienaars gebruik verskillende metodes om die duiwe aan te spoor en moet sorg dat hulle goed versorg word om gesondheid te verseker, hulle fiks te kry en hulle toegeneëntheid  te wen. As jy ‘n duiweboer besoek, let op met watter deernis en liefde hy sy duiwe behandel.

Eerskomende Saterdag 23 September se wedvlug vind weer vanaf Richmond (Karoo – 760 km) plaas. Voorlopig lyk dit asof dit weer ‘n redelik normale wedvlug sal wees, maar die weersomstandighede kan natuurlik enige tyd gedurende die week omswaai.