Duiwe – Uitslae

Verlede Saterdag, 9 September het Pretoria se duiweboere hulle voorberei om hulle duiwe na ongeveer 10 ure vanaf Victoria-Wes te verwelkom. So met ondervinding is hulle skatting van hoe lank die duiwe behoort te vlieg, verbasend naby aan die kol. Hulle let op na die weervoorspelling, kry inligting van die begeleier oor die weersomstandighede by loslating en plaas hulle denkvermoë daarby. Ongeveer soos die duiwe vorder, skakel hulle met duiweboere wat tussen die loslatingpunt en Pretoria woon om vas te stel hoe gunstig of ongunstig die weer op daardie tydstip is.

Met vandag se kommunikasiemiddels het hulle nie nodig om binnenshuis oor ‘n telefoon te praat nie, maar doen dit op slimfone en nog wat terwyl hulle by die hokke is. Dan het van hulle ook die reëling dat ‘n vriend in Vereeniging of Krugersdorp of aan die Oosrand hulle sal laat weet hoe vinnig hulle duiwe gevlieg het. So verkeer hulle gesellig terwyl hulle wag.

Maar steeds is daar onsekerheid omdat die duiwe soms van die vluglyn afwyk, afhangende of die wind die duiwe meer na oos of wes druk. Met ‘n sterk stertwind, vlieg die duiwe baie hoog omdat die wind hulle afdruk grond toe.

Twee wedvlugte is na Pretoria gereël. Omdat die wedvlugafstand so ver is, kom die duiwe later in en kan die uitslae nie vroeg Saterdagaand bereken word nie. Die weer was ietwat moeiliker as gevolg van ‘n ligte wind wat later effens sterker geword het. Dit word in die uitslae gesien omdat die duiwe wat ‘n halfuur later gelos is, se spoed stadiger was.

Hierdie keer was die wenduif van die eerste wedvlug se spoed 1187,0674 mpm (=  71 km per uur). Die wenspoed in die tweede wedvlug was 1134,7005 mpm (=  68 km per uur).

Eerskomende Saterdag 16 September se wedvlug vind vanaf Cradock (755 km) plaas.