Duitse AFD druk CSU na regs

Die sterk vertoning van die nasionalistiese Alternatief vir Duitsland in die afgelope federale verkiesing het klaarblyklik  beduidende invloed op die Christen Sosiale Unie (CSU) van Bavaria.

Die jarelange koalisievennoot van kanselier Merkel se Christen Demokratiese Unie het ’n enorme probleem met die komende verkiesing in Bavaria.

Die mees bekende leier van die CSU,  Franz Josef Strauss, het vroeër gesê daar mag nooit ’n ander party regs van die Christen Sosiale Unie wees nie, maar nou het die AFD wel plek ingeneem aan die regterkant.

Die tradisionele koalisie tussen die CDU van Angela Merkel en die CSU van Bavaria word nou versteur met die koms van nog twee koalisievennote waarmee Merkel tans probeer onderhandel, maar beide is nie juis bekend vir hulle lojaliteit nie.

Die uitslag van die afgelope verkiesing het Merkel in ’n noute want sy moet na regs praat met die CSU en na links met die Vrye Demokrate en die linkse Groenes.

Politieke ontleders sê die Merkel koalisie sal waarskynlik, indien die ooreenkoms met almal sou slaag, ’n brose poging van ’n verloor-party kan word.

Een van Merkel se grootste uitdagings sal wees om die Bavaria CSU tevrede te hou terwyl sy die twee ander vennote ook moet akkommodeer.

Angela Merkel se verswakte posisie in die Duitse politiek sal ook ’n direkte uitwerking hê op haar invloed en leierskap as ’n groot voorstander vir die Europese Unie, en word dit algemeen aanvaar dat sy gedwing sal word om na die pype van die Franse sosialis, president Emmanuel Macron te dans.